Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



Jammer dat die Afrikaanse bulletin ook aan die Engelse intekenare gestuur is. Dit was 'n vingerfout aan my kant. Hier volg die Afrikaanse weergawe. de George, ZS6NE.

SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA
SARLNUUS SONDAG 6 MEI 2007
U luister na amateurradiostasie ZS6SRL van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in SuidAfrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. U kan ook na hierdie oggenduitsendings luister deur per Echolink met ZS6FCS te koppel. U kan ook na www.sarl.org.za gaan en op ARMI klik en die daar aangeduide skakels volg om oudio daarvandaan te ontvang. Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van die SARL se webwerf nl. www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
Hierdie uitsending word gedoen deur Gustav, ZS6BWN, vanuit Pretoria met herleidings op 51,400 14,235, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz asook 438,825 MHz in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos nodig).
STIL SLEUTEL
Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutel van Willie Steyn, ZS6BCV, op Maandagoggend 23 April stil geraak het. Ons innige simpatie aan sy eggenote Saar, ZS6BVG, dogter Annamarie, ZR6HE, ander kinders, kleinkinders, familie en vriende. (POUSE)
In die nuus vandag:

KONSTRUKSIEKOMPETISIE HERSIEN ROEPSEINBOEK OP APRS PRESIDENTSNET EN INTEGNET VANAAND
U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir die volledige berigte oor die voorgenoemde items, sowel as ander belangrike en interessante berigte.
KONSTRUKSIEKOMPETISIE GEWYSIG
Die Suid-Afrikaanse Amateurradioontwikkelingstrust het die konstruksiekompetisie vir 2007 gewysig na 'n ope kompetisie waar die inskrywer kan kies wat hy of sy wil ontwerp en bou.
Skryf jou idee in met met soveel besonderhede as moontlik. Vyf inskrywings sal gekies word en met 'n bedrag van tot R1000 elk voorsien word om die projek te bou. Die inskrywings moet 'n toepassing in amateurradio hê. Vyf projekte sal meeding vir een van twee FT2800M send/ontvangers wat deur Overstay, die verspreiders van Yaesu, geborg word. Besoek www.amateurradio.org.za vir volledige besonderhede.
ROEPSEINBOEK OP APRS
Dick, ZS6RO, het onlangs op APRS 'n bediener opgestel wat gebruik kan word om roepseinboekinligting vanaf enige plek in die APRS Internasionale netwerk te bekom. APRS is die akroniem vir `Automatic Position Reporting System' wat ontwikkel is deur Bob Bruninga, WB4APR. Die sisteem gebruik amateurradio om posisieverslae, weerverslae en boodskappe tussen gebruikers oor te stuur.
Wanneer 'n plaaslike Suid-Afrikaanse roepsein nagegaan word, word die SARL-databasis gebruik. Wanneer 'n DX-roepsein via die APRS nagegaan word, word die QRZ.COM-databasis intyds gebruik. Dieselfde databasis word gebruik tydens navrae vanaf die pakketradionetwerk.
Die SARL-roepseinboek word weekliks bygewerk, dus word hierdie databasis eerste gebruik aangesien die Suid-Afrikaanse inhoud meer akkuraat is. Indien inligting nie verkry word nie ,word 'n soektog in die QRZ.COM-databasis op die internet gedoen.
Om die fasiliteit te gebruik wanneer met APRS gewerk word, en aanvaar word dat mens die APRS-program UI-View gebruik, maak die venster oop om 'n boodskap te stuur en tik ZS6RO-WI ("WI" staan vir "Who Is") in die "To callsign" veld.
Dan in die "MESSAGE" area tik "F Callsign" en dan Return/enter. (Die roepsein seinde die een wat jy soek). (F staan vir "Full information"). Jy kan ook slegs Callsign tik en 'n eenlynopsomming van daardie roepsein sal op APRS ontvang word.
In plaas van 'n roepsein kan jy byvoorbeeld "F SARL" tik. Hierdie sal jou die foonnommer en e-posadres van die Suid-Afrikaanse Radioliga gee. Amateurs in ander lande se inligting kan ook op dieselfde manier bekom word bv. RSGB, DARC ens.
Indien jy die inligting in jou eie roepseinboek wil bywerk moet Suid-Afrikaanse radioamateurs die SARL direk kontak.
PRESIDENTSNET EN INTEGNET VANAAND
Sluit vanaand Sondag 6 Mei by President Graham Hartlett aan vir 'n oorsig en opgradering van die SARL se aktiwiteite en inligting oor die SARL-jeugdag wat op 16 Junie 2007 gehou gaan word. Die President se Net begin om 19:00.
Integnet volg om 20:00 met Chris Scarr, ZS2AAW, van Port Elizabeth Amateurradiovereniging wat sal praat oor die uitgebreide herhalernetwerk. Die netwerk bedien die Ooskaap en strek vanaf die Weskaap tot in die Vrystaat.
Klubs wat by die net wil aansluit moet voor middag vandag 'n e-pos met besonderhede aan armi@sarl.org.za stuur.
Die President se Net en Integnet is op baie herhalers aktief en op HF op 3 718 kHz, op 7 082 kHz en op 14 320 kHz sowel as op die web. Besoek www.sarl.org.za en klik op ARMI vir volledige besonderhede. Die voordrag kan ook daarvandaan afgelaai word deur regs te klik en "save target as" te kies.
KLUBNUUS
DIE KEMPTON AMATEUR TEGNIESE VERENIGING SE AJV
Die Kempton Amateur Tegniese Vereniging het Saterdag 21 April 2007 hul AJV gehou en die volgende lede is verkies tot die komitee:
Voorsitter - Hannes Hanekom, ZS6LW;

Visevoorsitter - Vivian Dold, ZS6VD; Sekretaris - Theo Barkhuizen, ZR6TGB; Tesourier - Paul Cornelius, ZS6PJC.
Baie dankie aan die uittredende komiteelede vir die diens deur hulle verrig, en geluk en sterkte aan die nuwe komiteelede.
Besoek gerus hulle webtuiste by www.kats.za.net as u meer oor die Kempton Amateur Tegniese Vereniging wil weet.


ERK JAKKALSJAG
`n Jakkalsjag gaan op 19 Mei 2007 deur die Oosrand Radioklub by hul klubhuis in Springs aangebied word. Vir nadere inligting gaan na www.zs6erb.co.za.
Die jakkalsjag sal om 14:00 deur `n vergadering van die APRS Belangegroep, in die klubhuis, gevolg word.
VOORTPLANTINGSVOORSPELLING
Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal wissel van onrustige tot aktiewe vlakke gedurende 20 Mei. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 20 wees.
20 m en 15 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m openinge vanaf 06:00 en weer om 13:00 SAT na Indië. Na Australië toe gaan die toestande uitdagend wees. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike goeie 15 en 20 m openinge na Europa. Kontakte met die Verenigde State gaan baie uitdagend wees. Vir die morsekodeen digitale entoesiaste kan dit lonend wees om 10 MHz te monitor.
Alhoewel die toestande nie te opwindend is nie, kan HF altyd jou nog steeds verras soos weer die afgelope langnaweek bewys is met die ZS1 en ZS3 ekspedisies. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.
DAGBOEK VAN GEBEURE
Vandag 6 Mei - ZS3/ZS4 40 metersprint en Presidentsnet en Integnet;
15 Mei - Sluitingsdatum vir aansoeke vir die Itchen Valley Klub se beurse;
19 Mei - ERK Jakkalsjag;

16 Junie - SARL Jeugdag;
30 Junie - Sluitingsdatum vir SA-DX-opname.
Sarlnuus maak staat op nuusitems wat vir radioamateurs van belang is en deur klubs en individue ingestuur word. Die enigste manier om te verseker dat u berigte Sarlnuus bereik is om dit in die korrekte plek op die webwerf van die SARL nl. www.sarl.org.za/newsinbox.asp te plaas nie later nie as die Donderdag wat die bulletin voorafgaan. Dit sal waardeer word indien u dit in Afrikaans sowel as Engels sal doen.
Die SARL nooi ook alle luisteraars om elke Sondagoggend om 10:00 SAT na die program Amateur Radio Mirror International op 145,750 MHz in die Pretoriagebied, en op verskeie ander herhalers, en met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 695 kHz, te luister. Oudiostrome is ook vanaf www.zs6mrk.org sowel as per Echolink vanaf ZS6FCS, soos vir hierdie bulletin, beskikbaar. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Telkom en Sentech borg die uitsendings op die nieamateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Gustav, ZS6BNW, saamgestel is.
'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.
/EX



Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003